kaalvoetklonkie

'n idealis se poging om te verhoed dat realiteit uit die mode gaan

Wat ek by my ma geleer het

“Tolliebol!” My ma het my geroep.

“Ja Ma?” Ek was in my kamer, besig om met my lego-blokkies te speel.

“Kom dek gou vir Mamma die tafel.”

Ek het ongeduldig gesug. Ek was so ampertjies klaar met my nuutste lego-skepping en die tafeldekkery kom op ‘n baie ongeleë tyd. Buitendien, dit was nog ‘n kwartier voor my Pa by die huis kom. Oorgenoeg tyd.

“Ek kom Ma, ek wil net gou eers hierdie skoorsteen klaarbou…”

Ek is seker ma’s moet super-powers hê, want sy was onmenslik vinnig in my kamerdeur. Met die opkykslag het ek geweet my moeilikheid is groot.

My ma het vreeslike mooi oë en sy het gewoonlik bietjie swart oogpotlood gedra wat dit nog meer beklemtoon het. Om een of ander rede, as sy kwaad was, het ek altyd die swart van die oogpotlood raakgesien, so asof die kwaai weerligstrale uit haar oë dit meer opmerklik gemaak het.

En haar kwaai oë het my skielik weer laat onthou: ons hét al hieroor gepraat. Die ek-wil-net-gou-eers as my ma of pa my vra om iets te doen het ek vervolmaak tot ‘n gewoonte wat almal die mure uitgedryf het.

Op die stadium wat ek my pakslae gekry het, was my gedrag hoogstens irriterend, maar my ouers het die implikasie van sulke gewoonte-gedrag besef lank voor ek kon verstaan waaroor die bohaai gaan.

Vandag sien ek gereeld ek-wil-net-gou-eers-mense en ek verstaan die waarde van die les soveel beter.

Want dit gaan om baie meer as die ek-wil-net-gou-eers. Dit gaan oor ‘n onderliggende houding, ‘n standpunt wat jy inneem wat sê, my goeters is belangriker as jou goeters. En as jy lank genoeg aanhou, word dit ‘n patroon van self-gesentreerdheid en verskonings. Begin jy dit ook doen met jou vriende, in jou werk, met outoriteitsfigure, met God.

Ek weet van mense se huwelike wat vou as gevolg van net-gou-eers. Daar is altyd ‘n goeie rede waarom hulle nie aan die al-groter-wordende gat in hulle verhouding kan werk nie. Goeie redes. ‘n Werkskrisis, net tot die einde van volgende maand, dan sal daar meer tyd wees. Sodra die kinders se eksamens verby is. ‘n Finansiële krisis.  Siekte. Laat ons net die trek agter die rug kry. Nog ‘n werkskrisis. Desembervakansie. En voor hulle hulself weer kan kry, is die kloof so groot en wyd dat hulle hulp nodig het om met mekaar te kommunikeer.

Hartseerste van alles, selfs hierdie hulp word dan op die net-gou-eers-lys gesit.

Wat is dit wat jy so aanhou uitstel? Daardie ding wat jy weet jy moet doen, maar net nooit “tyd voor kry” nie? Die “iets” waarvoor jy ellelange goeie verskonings uitdink oor hoekom jy dit nog nie gedoen het nie?

Oefen?
Meer tyd spandeer saam met jou kinders?
Weer begin Bybel lees?
Vir Ouma in die ouetehuis gaan kuier?
Trou?
Kinders?
Gesonder eet?
Gewig verloor?
‘n Nuwe werk/stokperdjie?

Ek-wil-net-gou-eers is ‘n tydvreter. Selfs op sy beste is tyd nie jou maatjie nie, dis ‘n meëdoenlose voortstuwende ding wat vir niks en niemand stop nie.

Jou ek-wil-net-gou-eers-lys gaan ook nooit klaar word of korter word nie, want dit is nie ‘n lys van take nie, dis ‘n ingesteldheid. Dit maak jou blind vir die skade wat jy veroorsaak.

Ek wed jou, as ek jou vra om ‘n balansstaat op te stel van laasweek se program teenoor jou prioriteite, dit nie gaan balanseer nie; want wat jy dink is prioriteite in jou lewe en waaraan jy weekliks tyd spandeer, is nie dieselfde nie.

En jou verskoning as dit nie balanseer nie?

Ja, maar ek moes-net-gou-eers…

Laat ek nou dadelik ophou skryf, daar is ‘n KLOMP goed wat ek onmiddelik moet gaan doen!

Wat is die hemel?

Wat as dit heeltemal anders is as wat jy dink?

‘n Klomp mense in ‘n bus is oppad hemel toe. By die busstasie aangekom, word elkeen ontmoet deur ‘n betekenisvolle persoon wat hulle op aarde geken het om hulle te vergesel vir die laaste deel van die reis, wat te voet moet geskied.

Die passasiers maak allerlei eienaardige ontdekkings. Soos wat hulle by die bushalte afklim, besef hulle een vir een dat hulle spookagtig deursigtig is. Dit sou miskien nie so vreemd gewees het, as die begeleiers nie soliede mense was nie. Is dit nie veronderstel om andersom te wees nie?

Party is ontsteld omdat daar so ver gestap moet word. Ander is teleurgesteld of geskok oor die persoon wat hulle moet begelei.

Maar seker die vreemdste ontdekking is die feit dat, wanneer die deursigtige reisigers op die gras trap, dit soos skerp glas deur hulle voete steek. Toemaar, troos een van die begeleiers, dit word beter soos wat jy stap.

Een van die meer avontuurlustiges waag dit tot by ‘n appelboom maar vind uit dat hy nie ‘n appel gepluk kan kry nie. Hy kan nie eers een van die appels wat van die boom afgeval het, opgetel kry nie. Sy spook-arms het bloot nie genoeg krag of substans nie. ‘n Ander passasier voel so minderwaardig oor haar deursigtigheid dat sy weier om agter ‘n bos uit te kom.

Tussendeur toenemende protes probeer die begeleiers verduidelik dat die reis na die berge hulle stelselmatig meer solied sal maak, dat hulle ewenwel tog genoeg substans sal hê dat die gras pad sal maak vir hulle voete.

Vir meeste passasiers is die omstandighede egter net te vreemd en sommiges klim selfs terug in die bus.

CS Lewis skryf hierdie allegorie oor die hemel in The Great Divorce. Ek vind die konsep fassinerend, want dit speel met die volgende idee: as die aarde ‘n afgeskaalde weergawe is van wat ons kan sien, hoor, ruik, proe en ervaar, hoe sou die hemel dan lyk? Meer spesifiek, as ons in ‘n afgeskaalde weergawe van realiteit leef, hoe sou “ultimate reality” lyk?

Wat as realiteit (of soos Theuns Jordaan sing – die skerp kant van die lewe) deel van ‘n voorbereidingsproses is? Sou ons nog steeds so gretig wees om dit vermy?

Ek kan onthou van ‘n vakansie by die see waar ek besluit het om meer kaalvoet te loop. My voete het dit amper nie gemaak nie! Die teer was te hard, die sand te grof, om nie eers te praat van gruis-klippertjies nie, wat suiwer foltering was. Die gemak van my skoene het my voetsole te sag gemaak. Dit was eers teen die einde van die vakansie wat ek kon loop sonder dat dit lyk of ek heelpad duwweltjies raaktrap.

Dit het my laat dink aan die vroue in ons eie Suid-Afrikaanse geskiedenis wat so sterk gevoel het oor Engelse onderdrukking dat hulle bereid was om kaalvoet oor die Drakensberge te trek.

Wat sou gebeur as ons ook bereid was om bietjie meer kaalvoet te loop ter wille van ‘n saak? Sou ons nie straks vind dat ons voetsole taaier word nie?

Dalk sou ons uitvind wanneer ons by die bushalte afklim dat ons minder deursigtig is, dat die gras bietjie meer padgee onder ons voete.

Ek hou van Lewis se sinspeling dat blootstelling aan realiteit jou beter voorberei vir die lewe in die hiernamaals. Want hoe meer ek om my kyk, hoe meer sien ek ons mensdom se wegskram van realiteit. Hoor ek onstellende statistieke van dwelmgebruik en drankmisbruik. Sien ek mense om my wat vir hulle “alternate realities” skep, waar hulle eie aksies en interpretasies ver verwyderd is van die werklikheid. En tog is hierdie mense nie gelukkig nie.

Ek lees selfs ‘n artikel wat sê dat een uit elke tien Amerikaners deesdae anti-depressante gebruik, ‘n 400% styging in voorskrifte sedert 1988.

Ons mensdom “cope” nie so lekker met realiteit nie.

Jare gelede is ek op ‘n begrafnis – ‘n vriendin het iemand baie na aan haar aan die dood afgestaan. Op die begrafnis huil sy steeds ontroosbaar en iemand vra of hulle haar nie miskien ‘n kalmeerpilletjie moet gee nie. Tussendeur die trane sê sy iets wat my tot vandag toe nog bybly: Ek wil niks hê om hierdie pyn te verdoof nie. Ek wil dit VOEL. Ek wil dit voel en onthou dat ek al my geliefdes moet waardeer vir so lank as wat ek hulle by my het. Ek wil die pyn voel sodat ek ordentlik kan afskeid neem. Moet dit nie van my af wegvat nie.

Sy is en was nie ‘n smartvraat nie. Inteendeel, ek dink sy is een van die mees gebalanseerde mense wat ek ken. Want sy het op ‘n filosofiese vlak geleer wat ons as klein kindertjies reeds op fisiese vlak geleer het: dat pyn-impulse tog ‘n doel dien. Dat dit die pyn-impuls is wat maak dat jy jou hand van die warm stoofplaat af wegruk.

Die probleem is nie die plaat nie en die oplossing is nie pyn-verdowing nie.

Die les is realiteit.

Alhoewel Lewis se allegorie dalk bietjie dik vir ‘n daalder kan wees vir ‘n verhaal oor die hemel, dink ek tog hy het ‘n punt beet met ‘n tong-in-die-kies waarneming oor ons mensdom se obsessiewe vermyding van realiteit. Om alles te kroon het hy hierdie verhaal in 1946 geskryf – wat sou hy sê as hy ons vandag kon sien?

Daar is ‘n saak uit te maak vir realiteit – ons funksioneer meer gebalanseerd en effektief as ons in harmonie kan leef daarmee. Dis verseker nie die maklike pad nie, realiteit kan op sy beste soms hard en ongenaakbaar wees, maar as jy kies om dit vierkant in die oë te kyk, word jy gewoonlik beloon met ‘n rare kommoditeit: ‘n bietjie groei vir jou karakter.

En dit is die enigste ding wat jy met jou kan saamvat hemel toe.

Hier gaat ons!

Raait. Ons vat hom sommer by die horings, hierdie blog-bul. Want êrens op my nuwejaarsvoorneme-lysie skryf ek “skrywersblok” en voel summier so geintimideer deur die simpel woord dat my lysie sommer toe net daar stop. Die feit dat dit nommer twee op my lys was, skree nie net van suiwer ironie nie, maar getuig ook van die omvang van die probleem.

Dis nie dat ek nie weet wat ek wil sê nie. Dis ‘n geval van beginnersvrees, nie seker wees van my stem nie en bly uitstel want, synde my eie grootste kritikus te wees, wil ek nie net my sê sê nie, ek wil dit perfek sê en die skryfkuns-perfekgeit ontwyk my nou al maande lank. My leë blog staan soos ‘n monument vir al die slagoffers wat perfeksionisme agterlaat.

Dit is dus nie verrassend dat die derde inskrywing op my voorneme-lys (helaas eers ‘n paar dae later) min of meer bedoel dat ek perfeksionisme in sy kanon gaan instuur hierdie jaar nie. Soos met alle dinge in die lewe is die perfeksionisme opsigself nie die probleem nie, maar die mate waartoe dit waarde toevoeg al dan nie. En as die blerrie ding jou lamlê en stiefkinders soos skrywersblok kweek, dan moet hy gaan!

So hier spring ek nou met albei voete in. Ek het in elk geval nog altyd ‘n ding oor voete. Nie ‘n fetish nie, maar ‘n deurlopende tema (hehe) in my lewe. Oor die paaie waarop ek met hulle loop, oor die skoene wat ek vir hulle aantrek, oor die krieweling wat ek soms in hulle ervaar. Dit sou dus meer as gepas wees dat ek my spiksplinternuwe blog inwy met ‘n eenvoudige ode aan voete. Want hier is ek van plan om ‘n paar taai temas deur te trap en saam met jou daaroor te debatteer, om te besin oor die lawwigheid en die gepastheid van skoene en om bietjie filosofies te raak oor die paaie waarop ons loop.

Robert Orben – bless his poetic little soul – het sweerlik hierdie versie net vir my nuwe blog geskryf :

Every speaker has a mouth;

An arrangement rather neat.

Sometimes it’s filled with wisdom.

Sometimes it’s filled with feet.

Daar het jy dit nou. As ek die dag dan nonsens praat, troos ek my daaraan – ten minste is daar nog ‘n voete-tema!

3…2…1…

Oh great. My eerste inskrywing en ek het skrywersblok.

Post Navigation