kaalvoetklonkie

'n idealis se poging om te verhoed dat realiteit uit die mode gaan

Hier gaat ons!

Raait. Ons vat hom sommer by die horings, hierdie blog-bul. Want êrens op my nuwejaarsvoorneme-lysie skryf ek “skrywersblok” en voel summier so geintimideer deur die simpel woord dat my lysie sommer toe net daar stop. Die feit dat dit nommer twee op my lys was, skree nie net van suiwer ironie nie, maar getuig ook van die omvang van die probleem.

Dis nie dat ek nie weet wat ek wil sê nie. Dis ‘n geval van beginnersvrees, nie seker wees van my stem nie en bly uitstel want, synde my eie grootste kritikus te wees, wil ek nie net my sê sê nie, ek wil dit perfek sê en die skryfkuns-perfekgeit ontwyk my nou al maande lank. My leë blog staan soos ‘n monument vir al die slagoffers wat perfeksionisme agterlaat.

Dit is dus nie verrassend dat die derde inskrywing op my voorneme-lys (helaas eers ‘n paar dae later) min of meer bedoel dat ek perfeksionisme in sy kanon gaan instuur hierdie jaar nie. Soos met alle dinge in die lewe is die perfeksionisme opsigself nie die probleem nie, maar die mate waartoe dit waarde toevoeg al dan nie. En as die blerrie ding jou lamlê en stiefkinders soos skrywersblok kweek, dan moet hy gaan!

So hier spring ek nou met albei voete in. Ek het in elk geval nog altyd ‘n ding oor voete. Nie ‘n fetish nie, maar ‘n deurlopende tema (hehe) in my lewe. Oor die paaie waarop ek met hulle loop, oor die skoene wat ek vir hulle aantrek, oor die krieweling wat ek soms in hulle ervaar. Dit sou dus meer as gepas wees dat ek my spiksplinternuwe blog inwy met ‘n eenvoudige ode aan voete. Want hier is ek van plan om ‘n paar taai temas deur te trap en saam met jou daaroor te debatteer, om te besin oor die lawwigheid en die gepastheid van skoene en om bietjie filosofies te raak oor die paaie waarop ons loop.

Robert Orben – bless his poetic little soul – het sweerlik hierdie versie net vir my nuwe blog geskryf :

Every speaker has a mouth;

An arrangement rather neat.

Sometimes it’s filled with wisdom.

Sometimes it’s filled with feet.

Daar het jy dit nou. As ek die dag dan nonsens praat, troos ek my daaraan – ten minste is daar nog ‘n voete-tema!

Single Post Navigation

39 thoughts on “Hier gaat ons!

  1. Lekker gelees 🙂 Ons is nie perfek hier nie, ons skryf sommer net wat in ons hart en kop is en soms “strike” ons dit “lucky” en skryf ‘n perfekte inskrywing wat mens agterna laat wonder; “Is dit regtig EK wat daai geskryf het? Sjoe!”

    Welkom!

    • Ag Son, jy is balsem vir my siel. Ek was wraggies alweer besig om te peuter aan hierdie inskrywing, vas onder die indruk dat NIEMAND nog weet van my blog nie, en hier skrywe jy vir my.
      Red-handed gevang, ekke.
      Hierdie peuter-perfeksionisme is ‘n moeilike kalant om nek om te draai! Maar ek belowe nou plegtig dat ek op my hande gaan sit om die inskrywing nou so te laat staan.
      Dankie vir my welkom en aangename kennis!

      • Daleen ballard on said:

        Sjoe ,dis nou absoluut die grootste verrassing ! Ek dink dis fantasties en baie geluk, jy het soveel talente ,jy moet dit gebruik.Ek is so trots op jou en wens dat jy dit al lankal gedoen het,en vergeet van meer perfeksionisme,hierdie is perfek !

  2. Ons is ‘n klomp lekker mense hier en party van ons het selfs met die tyd saam vriende op Facebook geword. As jy meer lesers wil hê, dan moet jy kommentaar gaan los op hulle blogs en so leer hulle jou ook ken en kom lees hier. Jy kan maar kyk wie almal daar by my kommentaar gee. Cool mense 🙂

  3. Ek is so bly jy het begin blog! Een van my nuwejaarsvoornemens was om weer meer gereeld te blog, maar 15 dae van die jaar is al verby en daar het nog niks van gekom nie…

  4. Renchia Naude on said:

    Ag weet jy wat…… net om van jou te lees en van jou te hoor is ‘n balsem vir my siel!

  5. Daleen ballard on said:

    Pragtig en baie geluk ! Weereens gebruik jou talente,dis alles perfek !

  6. Elize Joubert on said:

    Daarsy my maatjie,dis mos hoe jou ken,’tackle’ hom,en skop vir die pale! (Die voete-ding,jy weet!) Baie geluk met jou blog,sien uit daarna om nog meer te lees!

  7. Boebelaberry on said:

    Hi Kalonkie…………..welkom en dis lekker om jou hier te kry…..wat jy skryf, sal ons met tonne liefde opslurp…………lekker……lekker….en ons sal so van tyd tot tyd van ons laat hoor…..

  8. Hellie on said:

    Ek probeer weer. Baie geluk!!! Meisie met vele talente….!!!

  9. LiefVirVere on said:

    Ek is so bly blog is gebore Kaalvoetklonkie. Ek het al vele male gehoor jy wil skryf maar tot dusver kon niemand jou geskryf lees nie. Nou is dit vir ons almal beskikbaar en ek sien vreeslik uit om jou blog te lees.

    Groete
    LiefVirVere

    • Kan jy nou meer – die dae van wonderwerke is wragtie nog nie verby nie. Baie Dankie Kalonkie dat jy jou besonderse talent met ons gaan deel.

      Perfeksionisme – dit is ‘n pynlike kondisie om aan te ly – maar daar is mos ‘n ou pilletjie (sielkundig) wat voorgeskryf kan word daarvoor – ek het reeds ‘n chroniese voorskrif vir 12 maande – ek moet net probeer om van die pyn ontslae te raak (lol).

      Alles wat mooi is vir 2012 en liefde altyd!

    • Kan jy glo sharona, ons pad begin ook by ‘n blog lank lank gelede! Ek het ôk mar my tyd gevat, né. Maar ek staan en val nou by daai wysheid wat iets sê van die agteros wat ook in die kraal kom.

    • Tja LiefVirVere, ek het besluit om vir eers die ‘magic ink’ weg te bêre en só te skryf dat sterflinge ook kan lees. Welkom hier!

      (Lekker gelag vir jou naam! Ek hoop daai liefde is vir die voëls onder die vere ook, anders maak jy ‘n baie loud fashion-statement hier…!)

  10. Hi (wat noem ek jou nou? Kaalvoetklonkie?)

    Baie geluk met jou blog! Hoop dit gee jou hope pret en uitdagings!

    Liefde
    Annie

  11. Terug pieng: Blog Started « patientprogrammer

  12. Sigeuner on said:

    Kalonkie – ek is bly jy het die pad begin om woorde in `n ry te spoeg. En hier sit ek en ek lees – en dink:”dis mooi!” Dit is sommer baie, baie mooi.
    Ek het ook nie `n voetfetish nie – maar VOETE!!! Jitte, ek is so lief vir voete, ek kan dit soms nie oor my hart kry om hulle te versmoor met skoene nie.
    En skoene? Wel??????Daaroor sal ek praat as jy eerste begin…..want sien, ek is opsoek na daardie perfekte-perfekte paar. En dit het niks te doen met perfeksionisme nie.

    Hoop jy gaan voluit! Sal sommer die page NOU bookmark.

    Heerlike Nuwejaars verassing wat jy bring.

  13. aaaaah ek stuur vir jou ‘n spierwit duif…oe klonkie jy maak my sommer lus vir ‘n vonkie…ek gaan jou lees elke dag soos ‘n steekse donkie…

    Hehehe 🙂 LEKKER! JY met jou kaal voete het my sopas ge-inspireer om ook weer my blog uit pandora se kis te gaan haal…en die verestowwer nader te trek…ek lees jou hier…ek lees jou daar…eklees jou sommer deurmekaar!

    Bravo 2 oor en uit
    007 moet haarself gaan red die keer!

    • Dabbel-ou! Hoe bly is ek nou!
      (o aarde, ek dink jou rym is aansteeklik 😯 )

      Hoog tyd dat jy daai blog van jou gaan afstof, ek reken onlangse gebeure het jou met ‘n arsenaal skryfgoed gelaat. Ek sien uit om meer van jou te lees!

  14. Nee Kalonkie, jou blog het meer comments as myne.

  15. Hellie on said:

    Loer net gou in om te sien of jy nog hier is 🙂

  16. Wow, dis ‘n aangename verrassing!
    Welkom in blog-land liewe kaalvoetklonkie!
    Ek sê jou wat, as die hande weer kriewel om aan die inskrywing te verander, skryf liewer ‘n nuwe een ;)! (Sê ekke wat nog op krismis is!)

  17. Slim plan om ‘n tema te kry! Dan gaan jou muse nie jou skrywery oorheers nie, as jy nie weet wat om te skryf nie, skryf jy oor voete! 😀

  18. Feet =shoes you already won me over!

  19. Nou waar is die volgende inskrywing 🙂 🙂

Lewer kommentaar op Annie Kanselleer antwoord