kaalvoetklonkie

'n idealis se poging om te verhoed dat realiteit uit die mode gaan

Wat is die hemel?

Wat as dit heeltemal anders is as wat jy dink?

‘n Klomp mense in ‘n bus is oppad hemel toe. By die busstasie aangekom, word elkeen ontmoet deur ‘n betekenisvolle persoon wat hulle op aarde geken het om hulle te vergesel vir die laaste deel van die reis, wat te voet moet geskied.

Die passasiers maak allerlei eienaardige ontdekkings. Soos wat hulle by die bushalte afklim, besef hulle een vir een dat hulle spookagtig deursigtig is. Dit sou miskien nie so vreemd gewees het, as die begeleiers nie soliede mense was nie. Is dit nie veronderstel om andersom te wees nie?

Party is ontsteld omdat daar so ver gestap moet word. Ander is teleurgesteld of geskok oor die persoon wat hulle moet begelei.

Maar seker die vreemdste ontdekking is die feit dat, wanneer die deursigtige reisigers op die gras trap, dit soos skerp glas deur hulle voete steek. Toemaar, troos een van die begeleiers, dit word beter soos wat jy stap.

Een van die meer avontuurlustiges waag dit tot by ‘n appelboom maar vind uit dat hy nie ‘n appel gepluk kan kry nie. Hy kan nie eers een van die appels wat van die boom afgeval het, opgetel kry nie. Sy spook-arms het bloot nie genoeg krag of substans nie. ‘n Ander passasier voel so minderwaardig oor haar deursigtigheid dat sy weier om agter ‘n bos uit te kom.

Tussendeur toenemende protes probeer die begeleiers verduidelik dat die reis na die berge hulle stelselmatig meer solied sal maak, dat hulle ewenwel tog genoeg substans sal hê dat die gras pad sal maak vir hulle voete.

Vir meeste passasiers is die omstandighede egter net te vreemd en sommiges klim selfs terug in die bus.

CS Lewis skryf hierdie allegorie oor die hemel in The Great Divorce. Ek vind die konsep fassinerend, want dit speel met die volgende idee: as die aarde ‘n afgeskaalde weergawe is van wat ons kan sien, hoor, ruik, proe en ervaar, hoe sou die hemel dan lyk? Meer spesifiek, as ons in ‘n afgeskaalde weergawe van realiteit leef, hoe sou “ultimate reality” lyk?

Wat as realiteit (of soos Theuns Jordaan sing – die skerp kant van die lewe) deel van ‘n voorbereidingsproses is? Sou ons nog steeds so gretig wees om dit vermy?

Ek kan onthou van ‘n vakansie by die see waar ek besluit het om meer kaalvoet te loop. My voete het dit amper nie gemaak nie! Die teer was te hard, die sand te grof, om nie eers te praat van gruis-klippertjies nie, wat suiwer foltering was. Die gemak van my skoene het my voetsole te sag gemaak. Dit was eers teen die einde van die vakansie wat ek kon loop sonder dat dit lyk of ek heelpad duwweltjies raaktrap.

Dit het my laat dink aan die vroue in ons eie Suid-Afrikaanse geskiedenis wat so sterk gevoel het oor Engelse onderdrukking dat hulle bereid was om kaalvoet oor die Drakensberge te trek.

Wat sou gebeur as ons ook bereid was om bietjie meer kaalvoet te loop ter wille van ‘n saak? Sou ons nie straks vind dat ons voetsole taaier word nie?

Dalk sou ons uitvind wanneer ons by die bushalte afklim dat ons minder deursigtig is, dat die gras bietjie meer padgee onder ons voete.

Ek hou van Lewis se sinspeling dat blootstelling aan realiteit jou beter voorberei vir die lewe in die hiernamaals. Want hoe meer ek om my kyk, hoe meer sien ek ons mensdom se wegskram van realiteit. Hoor ek onstellende statistieke van dwelmgebruik en drankmisbruik. Sien ek mense om my wat vir hulle “alternate realities” skep, waar hulle eie aksies en interpretasies ver verwyderd is van die werklikheid. En tog is hierdie mense nie gelukkig nie.

Ek lees selfs ‘n artikel wat sê dat een uit elke tien Amerikaners deesdae anti-depressante gebruik, ‘n 400% styging in voorskrifte sedert 1988.

Ons mensdom “cope” nie so lekker met realiteit nie.

Jare gelede is ek op ‘n begrafnis – ‘n vriendin het iemand baie na aan haar aan die dood afgestaan. Op die begrafnis huil sy steeds ontroosbaar en iemand vra of hulle haar nie miskien ‘n kalmeerpilletjie moet gee nie. Tussendeur die trane sê sy iets wat my tot vandag toe nog bybly: Ek wil niks hê om hierdie pyn te verdoof nie. Ek wil dit VOEL. Ek wil dit voel en onthou dat ek al my geliefdes moet waardeer vir so lank as wat ek hulle by my het. Ek wil die pyn voel sodat ek ordentlik kan afskeid neem. Moet dit nie van my af wegvat nie.

Sy is en was nie ‘n smartvraat nie. Inteendeel, ek dink sy is een van die mees gebalanseerde mense wat ek ken. Want sy het op ‘n filosofiese vlak geleer wat ons as klein kindertjies reeds op fisiese vlak geleer het: dat pyn-impulse tog ‘n doel dien. Dat dit die pyn-impuls is wat maak dat jy jou hand van die warm stoofplaat af wegruk.

Die probleem is nie die plaat nie en die oplossing is nie pyn-verdowing nie.

Die les is realiteit.

Alhoewel Lewis se allegorie dalk bietjie dik vir ‘n daalder kan wees vir ‘n verhaal oor die hemel, dink ek tog hy het ‘n punt beet met ‘n tong-in-die-kies waarneming oor ons mensdom se obsessiewe vermyding van realiteit. Om alles te kroon het hy hierdie verhaal in 1946 geskryf – wat sou hy sê as hy ons vandag kon sien?

Daar is ‘n saak uit te maak vir realiteit – ons funksioneer meer gebalanseerd en effektief as ons in harmonie kan leef daarmee. Dis verseker nie die maklike pad nie, realiteit kan op sy beste soms hard en ongenaakbaar wees, maar as jy kies om dit vierkant in die oë te kyk, word jy gewoonlik beloon met ‘n rare kommoditeit: ‘n bietjie groei vir jou karakter.

En dit is die enigste ding wat jy met jou kan saamvat hemel toe.

Advertisements

Single Post Navigation

24 thoughts on “Wat is die hemel?

  1. Baie insiggewende stuk wat jy hier geskryf het. Nou wonder ek – van altyd af sukkel ek met enige verdowing – ek drink feitlik niks alkohol, en dokters sukkel selfs om my net onder narkose te kry en te hou – was ek dalk in ‘n vorige lewe iemand wat weggevlug het vanaf realiteit en nou moet ek leer om dit te “face” – altyd? Wonder maar net.

    • Hallo Son!

      Ek glo nie in reïnkarnasie nie, maar ek dink wel dat die Here ons elkeen anders toegerus het. Ons het almal die vermoë gekry om met realiteit te deel, maar ons vermoëns is nie almal op dieselfde plek op die glyskaal nie. Vir party mense kom dit meer natuurlik terwyl ander doelbewus moet werk daaraan totdat dit ‘n habit word. Hoe meer mens die vermoë toepas (selfs vir die meer natuurlike vermoë), hoe meer slyp en vorm jy dit en hoe beter word die toepassing.

      Ek is byvoorbeeld glad nie met sport-talente geseën nie. Ek draf omdat ek glo ‘n mens moet bietjie oefening inkry en dis een van die goedkoopste en maklikste maniere om te oefen. Maar selfs die onfiksste pelle hardloop my onder die stof in! Ek kom wel agter dat hoe meer ek draf, hoe beter word my tye en waar ek aanvanklik na 5 minute se draf wou doodneerslaan op die grond van uitputting, kan ek nou al amper ‘n uur lank draf voor ek wil doodneerslaan!

      Dit voel nog steeds vir my soos harde werk, maar as ek terugkyk kan ek my vordering sien. My meer sportiewe pelle sê dat dit vir hulle net soveel harde werk is om hulle talent te slyp. So dis asof die talent jou ‘n hupstootjie gee, maar daarna moet jy nog steeds hard werk om dit te verbeter.

      Ek dink as my pelle sou ophou oefen en ek hou aan oefen, sal ek uiteindelik eendag hulle aanvanklike tye verbeter (ek hoop!). Daar is nogal ‘n oulike gesegde wat sê:
      Hard work beats talent when talent doesn’t work hard.
      Ongelukkig (vir my ego) oefen my pelle nog harder as ek!

      Sjoe, dit was nou ‘n laaaang relaas, wat ek eintlik probeer sê is dat jou fisiese weerstand teen verdowing dalk daar is om jou te herinner dat jy ‘n natuurlike vermoë het om realiteit vierkant in die oë te kyk, of, as dit nie vir jou maklik kom nie, dalk ‘n aansporing om daaraan te werk?

      Ek weet ook nie, ek spekuleer maar sommer saam met jou!

  2. Sheart on said:

    Wil net se dit wat jy se oor realiteit is baie waar,ons skram defnitief weg daarvan.want die waarheid en werklikheid maak baie seer,dit weet ons almal maar daar is net een uitweg ,kyk dit in die oe en “face” dit,so hard as wat dit is want daar is nie ‘n alternatief nie,dit gaan gepaard met pyn.
    Die ander waarheid is dat niemand ooit die einresultaat kan bepaal nie ,want dit is nie voorspelbaar nie,elkeen gaan op ‘n ander vlak eindig.

    • Dis baie waar! Ons natuurlike instink is om weg te skram van iets wat seermaak.

      Gelukkig word die pyn stelselmatig beter soos wat mens dit face, soms vat dit net baaaaaie lank. Ek het al gehoor dat mense wat geliefdes verloor het sê die pyn gaan nooit rerig weg nie, dit word net meer hanteerbaar.

  3. Carmen on said:

    Food for thought… 🙂

  4. Hellie on said:

    Dankie vir die mooi beskrywing van die hemel. Ons moet definitief leer om meer kaalvoet te loop, sodat ons voetsole bietjie eelte kan kry. Dis nie altyd maklik of lekker nie!!

  5. Sjoe! Ek kon net nie ophou lees tot ek nie klaar gelees het nie! Ja. Ons raak al hoe meer bang om die waarheid te “face”!
    Ek het nog nooit ‘n boek van CS Lewis gelees nie, terwyl dit my SO trek. Daar is ander sulke skrywers ook. Sal regtig ‘n punt moet maak…

    • Toortsie, ek is mal oor jou naam! Laat skyn jou liggie, laat skyn!

      Ek voel net soos jy, daar is soveel goeie outeurs daarbuite wat ek nog wil lees. En ek is nog lank nie klaar met CS Lewis nie! Ek haak nou al hoe lank vas by sy Mere Christianity, elke keer wat ek dit lees leer ek van voor af iets nuuts. Ek dink audiobooks is ons voorland, dan kan ons “lees” terwyl ons bestuur!

  6. Baie verfrissende inskrywing. Dankie.

    Ek glo ook daaraan dat mens in die oomblik moet leef en die volle werklikheid van jou belewenisse moet ervaar. Dit impliseer egter glad nie dat jy nie mag drome droom nie, of die emosionele kant van ons bestaan moet opsy skuif nie. Inteendeel: Ek dink dat die mees onpeilbare deel van menswees, naamlik die emosie van liefde, juis in sy volle omvang ervaar word wanneer jy nie wegskram van die volle werklikheid daarvan nie.

  7. Hallo kyker!

    Ek stem saam, dit beteken glad nie dat die emosionele kant opsy geskuif moet word nie, inteendeel, emosies is deel van realiteit! Ons móét droom oor die toekoms, maar ons moet vandag se realiteit kan “face” sodat ons daardie drome kan probeer waar maak. Dit gebeur ook dikwels dat wanneer realiteit vir ‘n mens te veel word of te hard voel, jy jou kapasiteit om te droom verloor. I’ve been on that side too.

    Ek het toevallig gister na ‘n praatjie deur Ravi Zacharias geluister oor hoe ‘n mens die emosionele en intellektuele moet versoen. Hy sê dat net soos wat fisiese impulse jou brein laat verstaan iets is verkeerd wanneer jy jou hand op ‘n warm plaat neersit, so is emosies dikwels ‘n soortgelyke indikator vir die siel. Volgens hom is emosie en intellek beide belangrik, of soos hy dit stel: Emotional intelligence is key to complementing intellectual coherence. Nogal ‘n mondvol!

    En jy is heeltemal reg oor die emosie van liefde, dit is so omvattend dat dit soms moeilik is om nié daarvan weg te skram nie, want dis behels dikwels ook die bereidheid om seer te kry ter wille daarvan. Om soms die minste te wees. Om opofferings te maak. Maar ek skryf anderdag meer daaroor.

  8. Ek het geleer om kaalvoet te loop…maar ek wonder baie wat is die doel? Die groot vraag in die lewe was en is nog altyd: waar kom ons vandaan, wat maak ons hier, waar gaan ons heen? En om daardie te antwoord, is gelowe ‘create’ en allerhande slim stories om mense te maak glo aan iets…want dit is wat die mens doen….wil altyd rede hê vir als! Enomdat die mens so komplekse wesen is, het ons altyd motivering nodig vir als wat ons doen/moet doen…daarom werk dit om in iets te glo 🙂 Haha waarheen gan ek….wat as ons in ‘n dubbel dimensie lewe? Ons skram weg van die realiteite want ons is bang…bang omdat ons nie die antwoorde ken van wat maak ons hier en waarheen gaan ons nie…ons word net elke dag wakker en gaan maar aan. Tot daar iets ‘anders’ as die norm gebeur dan sê almal: Ja aanvaar dit maar, dis die realiteite van die lewe. Dan wonder ek weer, wat is tog die doel van alles? People get born, they grow up, have a family, they die….so gaan die kringloop…maar my kaalvoet tye het my laat besef dis die journey wat saakmaak, maar dan dink ek weer so wat dan van die journey of die lesse of die karakter as jy anyway dit nie in die hemel gaan gebruik nie want dis jou fisiese liggaam wat daardie ervaar maar dis nie jou fisiese liggaam wat dit kan saamneem nie?

    Hahaha funny wesens die mens…fasineer my so…jou skrywe het my laat dink en laat besluit my skoene kan maar nog bietjie langer in die kas bly aangesien ek nou nie meer transport het nie en anyway al die hele week ‘n kaalvoet klonkie by die huis is….MAAR jou inskrywing is net relevant vir mense wat glo dat daar ‘n hemel is….wat as daar nie ‘n hemel is nie? wat as hierdie reeds die hemel is?

    • Sjoe Dabbel-ou-sêwin, jy vra baie vrae!
      Om jou ordentlik te antwoord sal mens doer by Aristoteles se metafisika moet begin en daarvoor sal ek eers baaaaie huiswerk moet doen. So ek antwoord jou vir eers kort en kragtig en so uit die vuis:

      Eerstens, omdat jy uit liggaam, siel en gees bestaan sal jou ervaringe tóg saam met jou kan gaan hemel toe, want jou persoonlikheid en wie jy is, is gesetel in jou siel en gees. Jy ís siel en gees en jy het ‘n liggaam. Vandaar dat The Great Divorce my so gefassineer het, want dit sinspeel dat jy tog hierdie karakter in die hemel gaan/kan gebruik.

      Tweedens, Lewis maak ‘n baie goeie argument uit vir die feit dat gelowe nie ge”create” is nie in die eerste hoofstuk van sy boek The Problem of Pain. Taai leeswerk, maar die moeite werd.

      Derdens, ek stem saam dat die journey belangrik is, maar dis nie al wat belangrik is nie. Dit is soos wanneer jy van Johannesburg na Kaapstad reis om vakansie te gaan hou. Dis belangrik om te weet waar jy vandaan kom (veral om jou roete te beplan), jy moet aanpasbaar wees as jou roete nie verloop soos jy beplan nie en dis belangrik om te weet waarheen jy gaan. Die grootste deel van jou reis is die middelste deel (die journey) en dis belangrik dat jy hierop fokus, maar sonder die kennis van waar ons vandaan kom en waarheen ons oppad is, raak die middelste deel doelloos.

      En laastens, soos ek die Bybel lees en verstaan, is die hemel ‘n aparte plek van die aarde wat ons nou beleef – dink maar aan Elia wat lewendig in die hemel opgeneem is – hy was daarna nie meer op aarde nie. Daar is vele ander skrifverwysings ook.

      Sjoe, nou’s ek skoon uitasem. Sterkte met jou kaalvoettyd!

  9. Glam Fairy on said:

    Eks erg be-indruk met jou inskrywings en onderwerpe! Dis dinge wat ons almal raak en mense hou daarvan om goed te lees/kyk/hoor wat hul mee kan assosieer!! Soms met n glimlag soms met n traan en verseker altyd met my voetjies wat omkrul in vuisies van lekkerte eet ek jou skrywes soos soetkoek op!! Moenie ophou skryf nie! “High 5”!!!

  10. Aniets on said:

    Daar is ‘n spreekwoord in die Arabiese wereld: Baie sonskyn lei tot woestyne. Miskien is die reen in ons lewens daar om ons in oases te verander, met water en lafenis vir ander wat ook die reen moet deurstaan. Jou vriendin wat die seer wou voel het my diep geraak. The only cure for grief is to grieve…

  11. Sigeuner on said:

    Dis mooi!
    Veral hou ek van hoe die Hemel dalk kan lyk – ipv goud! Kaalvoet loop oor gras (al steek dit deur) klink lekkerder as kaalvoet op goud loop.
    Ongelukkig verkies die deursnee mens om liewer op goud te loop as op gras. Dis jammer, want dit IS dan juis wanneer jy nie leef vir die NOU nie. Die verlede is verby (vir altyd, al maak jy wat!) en die toekoms is in die toekoms (al maak jy wat) – en dis mens se vrese wat hul weghou om kaalvoet te loop waar dit saakmaak en in die proses nie hulle voete gewoond maak om te *loop* nie en trappies na die volgende NOU te probeer vermy. As mens net kyk waar jy nou is en nie agtertoe of vorentoe nie, maar aanhou loop, omdat jy moet, beweeg mens – en dis al wat saakmaak.

    Ek is ook effens bevrees – want ek weet ons nou is een groot illusie – omdat ek nie die werklikheid altyd *face* nie – dis nie wat my bevrees laat nie. Dis dat ek nie weet WAT werklikheid, buiten my eie persepsie is nie!

    Ek glo in reiinkarnasie – nogals!

    • Siggie…jy wat sê dat jy nie weet wat werklikheid is nie – buiten jou eie persepsies…

      Nou ja toe daar verduidelik jy dit mos nou self! Die werklikheid is die hier en nou, dis dit. As jy nie die prentjie like nie dans dit nou maar so, dis die werklikheid. Elkeen ervaar die werklikheid anders agv ons unieke ‘frame of reference’ / persepsies…daarom IS DIT die werklikheid 🙂 hehehe deurmekruis storie die sê ek jou!

    • Jy’s reg Sigeuner, ons spandeer soveel tyd om te tob oor ons verlede en te bekommer oor ons toekoms, dat ons vergeet om nou te leef.

      Aan die ander kant (on die awwir hand…hehe) moet mens jou NOU beter aanpak oor wat jy geleer het in die verlede, en jou NOU bestuur met die een oog op die toekoms. Balans is die wagwoord, want te veel draal op agter en voor, en glad nooit terug of vorentoe kyk nie, het albei terrible newe-effekte. Maar dis daai balans-ding wat so blerrie moeilik is!

      Jou kommentaar oor wat werklikheid en wat persepsie is, sal vir ure se lekker filosofiese gesprek sorg!

  12. Sigeuner on said:

    007 – ek dans!! My voete is grof geloop aan al die dinge en plekke waar my lewe my heen gelei het – ek DANS! Dis net dat ek soms die minste hou van my eie dans – dit voel soms so, so, uhm…lomp? En dan wens ek niemand kyk nie, niemand vind uit dat ek ook dans nie – of dat ek kan dans soos `n rocker oppe verhoog.

    Dis nie deurmekruis nie – ek sien jou woorde!

    Kaalvoetklonkie? Het jy regtig begint kaalvoet loop daar op die strand met die growwe sand en klippertjies?

  13. Jaaa Siggie, ek het sowaar, maar ek het vir ‘n paar dae geloop soos iets tussen ‘n hoender (met die nek wat so met elke tree vorentoe beweeg) en ‘n hottentotsgot op ‘n warm stoofplaat. Na ‘n paar dae het my ou sawwe voetjies eintlik goed aangepas en toe kan ek nie dink dat ek ooit weer skoene wil aantrek nie.

    Dit was ôk net tot ek weer voor my kas met die baie hakskoene gestaan het, toe wil ek weer almal gelyk aantrek!

Wat dink jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: