kaalvoetklonkie

'n idealis se poging om te verhoed dat realiteit uit die mode gaan

Archive for the tag “prioriteite”

Wat ek by my ma geleer het

“Tolliebol!” My ma het my geroep.

“Ja Ma?” Ek was in my kamer, besig om met my lego-blokkies te speel.

“Kom dek gou vir Mamma die tafel.”

Ek het ongeduldig gesug. Ek was so ampertjies klaar met my nuutste lego-skepping en die tafeldekkery kom op ‘n baie ongeleë tyd. Buitendien, dit was nog ‘n kwartier voor my Pa by die huis kom. Oorgenoeg tyd.

“Ek kom Ma, ek wil net gou eers hierdie skoorsteen klaarbou…”

Ek is seker ma’s moet super-powers hê, want sy was onmenslik vinnig in my kamerdeur. Met die opkykslag het ek geweet my moeilikheid is groot.

My ma het vreeslike mooi oë en sy het gewoonlik bietjie swart oogpotlood gedra wat dit nog meer beklemtoon het. Om een of ander rede, as sy kwaad was, het ek altyd die swart van die oogpotlood raakgesien, so asof die kwaai weerligstrale uit haar oë dit meer opmerklik gemaak het.

En haar kwaai oë het my skielik weer laat onthou: ons hét al hieroor gepraat. Die ek-wil-net-gou-eers as my ma of pa my vra om iets te doen het ek vervolmaak tot ‘n gewoonte wat almal die mure uitgedryf het.

Op die stadium wat ek my pakslae gekry het, was my gedrag hoogstens irriterend, maar my ouers het die implikasie van sulke gewoonte-gedrag besef lank voor ek kon verstaan waaroor die bohaai gaan.

Vandag sien ek gereeld ek-wil-net-gou-eers-mense en ek verstaan die waarde van die les soveel beter.

Want dit gaan om baie meer as die ek-wil-net-gou-eers. Dit gaan oor ‘n onderliggende houding, ‘n standpunt wat jy inneem wat sê, my goeters is belangriker as jou goeters. En as jy lank genoeg aanhou, word dit ‘n patroon van self-gesentreerdheid en verskonings. Begin jy dit ook doen met jou vriende, in jou werk, met outoriteitsfigure, met God.

Ek weet van mense se huwelike wat vou as gevolg van net-gou-eers. Daar is altyd ‘n goeie rede waarom hulle nie aan die al-groter-wordende gat in hulle verhouding kan werk nie. Goeie redes. ‘n Werkskrisis, net tot die einde van volgende maand, dan sal daar meer tyd wees. Sodra die kinders se eksamens verby is. ‘n Finansiële krisis.  Siekte. Laat ons net die trek agter die rug kry. Nog ‘n werkskrisis. Desembervakansie. En voor hulle hulself weer kan kry, is die kloof so groot en wyd dat hulle hulp nodig het om met mekaar te kommunikeer.

Hartseerste van alles, selfs hierdie hulp word dan op die net-gou-eers-lys gesit.

Wat is dit wat jy so aanhou uitstel? Daardie ding wat jy weet jy moet doen, maar net nooit “tyd voor kry” nie? Die “iets” waarvoor jy ellelange goeie verskonings uitdink oor hoekom jy dit nog nie gedoen het nie?

Oefen?
Meer tyd spandeer saam met jou kinders?
Weer begin Bybel lees?
Vir Ouma in die ouetehuis gaan kuier?
Trou?
Kinders?
Gesonder eet?
Gewig verloor?
‘n Nuwe werk/stokperdjie?

Ek-wil-net-gou-eers is ‘n tydvreter. Selfs op sy beste is tyd nie jou maatjie nie, dis ‘n meëdoenlose voortstuwende ding wat vir niks en niemand stop nie.

Jou ek-wil-net-gou-eers-lys gaan ook nooit klaar word of korter word nie, want dit is nie ‘n lys van take nie, dis ‘n ingesteldheid. Dit maak jou blind vir die skade wat jy veroorsaak.

Ek wed jou, as ek jou vra om ‘n balansstaat op te stel van laasweek se program teenoor jou prioriteite, dit nie gaan balanseer nie; want wat jy dink is prioriteite in jou lewe en waaraan jy weekliks tyd spandeer, is nie dieselfde nie.

En jou verskoning as dit nie balanseer nie?

Ja, maar ek moes-net-gou-eers…

Laat ek nou dadelik ophou skryf, daar is ‘n KLOMP goed wat ek onmiddelik moet gaan doen!

Post Navigation